Sunday, January 5, 2014

Tweejarige in hospitaal: Ma, kêrel vas

Deur Nico Strydom op 5 Januarie 2014


ʼn Tweejarige kleuter van Pretoria word in die hoësorgeenheid van die Steve Biko-hospitaal behandel nadat sy glo mishandel is.

Lianry Bruyns (2) is op 29 Desember in die hospitaal opgeneem nadat sy glo erg aangerand is. Sy het onder meer bloeding op die brein en verskeie inwendige beserings opgedoen. Lianry se oupa het aan Maroela Media gesê dat Lianry vroeër op lewensondersteunende masjiene gekoppel was maar dat haar toestand intussen verbeter het. Dokters het ʼn gaatjie in haar maag gemaak om die bloeding te dreineer. Hy sê Lianry het intussen haar ogies en handjies begin beweeg. Lianry se ma en dié se kêrel is intussen Saterdag vir beweerde kindermishandeling in hegtenis geneem. Hulle sal na verwagting Maandag in die hof verskyn.

Die polisie kon nog nie enige bykomende besonderhede oor die voorval verskaf nie.

Lianry se familie het Maroela Media versoek om nie verder foto’s van haar te publiseer nie.
Gepubliseer in Hoofnuus, Nuus, Suid-Afrika

No comments:

Post a Comment