Sunday, January 5, 2014

Woede oor baba se lykie in vrieskas

Deur Nico Strydom op 4 Januarie 2014


Die Lenmed-private hospitaal in Lenasia, Johannesburg het erken dat hulle ʼn baba se lykie in ʼn vrieskas in plaas van die hospitaal se koelkamer gebêre het, berig die Saturday Star.

Volgens die berig is Aaliyah op 23 November prematuur in die hospitaal gebore en is sy op 18 Desember oorlede. Prudence Andrews, die baba se ouma, het aan die koerant gesê toe die familie die volgende dag die lykie wou gaan haal, het ʼn suster hulle na ʼn vrieskas geneem en ʼn pakkie, wat in plastiek toegedraai was, uitgehaal. “Ons het niks daarvan gemaak tot sy die pakkie oopgemaak het nie. My kleindogter was daar binne.” Dr. Ahmed Kaka, mediese direkteur by die hospitaal, sê die vrieskas word gebruik om menslike weefsel soos plasenta te stoor voor dit behoorlik verwyder word. Die familie het Donderdag ʼn brief en blomme van die hospitaal ontvang maar was geskok aangesien die brief geen verwysing tot die voorval of ʼn apologie bevat het nie. Kaka het Vrydag in ʼn nuwe brief die familie om verskoning gevra vir die fout en gesê die bedoeling was nie om onsensitief of minagtend te wees nie.

Gepubliseer in Hoofnuus, Nuus, Suid-Afrika

No comments:

Post a Comment